

Jy het die eerste trimester van jou swangerskap oorleef, jy behoort nou minder moeg te voel en meer mens te voel, binnekort sal jy begin 'wys' so jy wil miskien dink aan hoe jy die nuus wil deel.
Onthou dat sodra jy die nuus breek almal vir jou advies gaan wil gee. Kies twee mense; op die meeste; wat jy vertrou en mee wil praat en vrae vra oor jou swangerskap. Hierdie mense sal wees wie se raad jy voel jy met 'n geruste hart kan volg, vir die ander mense kan jy vriendelik glimlag bedank vir hulle belangstelling. Bespreek die raad dan met jou gekose vertrouelinge en besluit of jy dit gaan implimenteer of nie. Onthou mense gaan jou peper met persoonlike vrae, hoe wil jy geboorte skenk, gaan jy borsvoed en ander simpel goete wat jy nie eers aan kan dink nie. Probeer om 'n strategie in plek te sit om hierdie vrae te hanteer.
Week 13:
Refleks bewegings begin nou vorm aanneem, die fetus begin suig, en sluk. Die begin van asemhaling is ook te bespeur, die fetus trek amniotiese vloeistof in die longe in en stoot dit dan weer uit. Die ore is ten volle gevorm. Die res van die organe is steeds besig om te ontwikkel, die fetus kan selfs urineer. Die kop groei nou nie meer so vinning nie, so die res van die lyf begin nou proporsioneel inhaal. Teen die einde van die week behoort alles in plek te wees sodat alles net kan groei. Alhoewel alles reeds in plek is sal 'n vroeë geboorte op die stadium nie lewensvatbaar wees nie.
Baba weeg omtrent 30 gram en is rondom 7.5cm lank.
Week 14:
Die tweede trimester breek aan. Jy mag dalk meer energiek begin te voel, jy behoort nou minder naar te wees en daar mag dalk 'n donker lyn vanaf jou naeltjie tot by jou pubiese haarlyn gesien word, hierdie is die linea nigra (swart lyn). Hierdie lyn wat omtrent 1cm wyd is word veroorsaak deur dieselfde proses wat jou tepels verkleur in die eerste trimester. Na die geboorte mag die lyn ligter raak, maar mag dalk nooit weg gaan nie. Daar word gespekuleer oor die lyn se verwantskap met foliensuur en insulien maar geen uitstluitsel is al bereik nie. Hierdie is alles hormoon verwant en jy mag dalk addisionele sproete, moesies en kattepels opmerk tydens swangerskap. Die meeste van hierdie sal egter verdwyn in die tydperk na geboorte.
Teen hierdie tyd behoort 'n goeie ultraklank operateur vir jou die geslag van jou baba te kan uitwys. Die skelet begin nou te vorm binne die fetus. Die fetus neem nou 'n meer menslike voorkoms aan. Die naelstring is net so lang soos die fetus, dit sal saam met die fetus groei, die plasenta is volkome ontwikkel.
Baba weeg omtrent 45 gram en is rondom 8.5cm lank.
Week 15:
Jy mag dalk van 'n toe neus kla en die vaginale slymerigheid neem nogsteeds toe, jy kan selfs daaraan dink om doekies te gebruik hiervoor. Jou hart werk harder as ooit, en daar is baie meer bloed in jou liggaam om gepomp te word. As gevolg hiervan kan jy dalk die gloeiende swangervrou wees waarvan almal altyd vertel. Jy behoort ook nou 'n welige bos hare te hê aangesien daar nie haarverlies tydens swangerskap plaasvind nie.
Die fetus se bewegings is nou ook meer gekoördineerd en spesifiek. Vinger- en toonnaels maak hulle verskyning, stembande ontwikkel en smaakknoppies word op die tong gevorm.
Baba weeg omtrent 80 gram en is rondom 9.5cm lank.
Week 16:
Hierdie week is dit moontlik dat jy 'n gefladder in jou maag kan waarneem, ja die fetus se spiere en bene is nou voldoende ontwikkel om voelbare bewegings te maak, die feit dat die spasie ook meer beknop raak help ook. Geniet hierdie fladder bewegings want voor jy weet ontaard dit in 'n volledige stoei geveg met skoppe en stampe drukke en stote. Indien jy nog niks voel nie moet jy nie bekommerd wees nie, alles gebeur nie noodwendig presies op dieselfde tyd nie, dit is normaal dat jy dalk nog 'n paar weke wag voor jy die bewegings voel.
Jy het 180ml se amniotiese vloeistof rondom hierdie tyd. Alle gewrigte is nou gevorm. Die fetus se hele liggaam is met haartjies bedek hierdie haartjies word lanugo genoem. Die werking hiervan is om die fetus teen temperatuur skommelinge te beskerm in die afwesigheid van vet. Teen die tyd dat jou baba gebore word sal daar dalk nog van hierdie haartjies op baba se liggaam wees, dit sal egter uitval en met fyner kleurlose haartjies vervang te word. Daar word ook gespekuleer dat dit die eerste deel van die vernix neerslag is, dit is nou die wit laag wat die baba bedek.
Baba weeg omtrent 110gram en is rondom 11.5cm lank.
Week 17:
Elke moontlik uitskeiding is besig om plaas te vind, jou neus loop jy sweet en moenie dink daardie vaginanale uitskeiding is op 'n einde nie, tref maar voorsorg soos nodig.
Die fetus se geslags organe is nou volledig gevorm. Die fetus urineer nou elke 40-45 minute, die meeste van die onsuiwerhede vind egter steeds hulle weg deur die plasenta na jou liggaam toe vir uitskeiding.
Baba weeg omtrent 150 gram en is rondom 13cm lank.
Week 18:
Baie swangervrouens begin teen hierdie week die fetus se beweging te voel indien dit nie al reeds gebeur het nie. As jy voorheen swanger was sou jy dalk al die gefladder uitgeken het. Indien jy egter die week nog niks voel nie, moet jy maar net geduldig wees. Die hartspier van die fetus klop tussen 120 & 160 slae per minuut. Bewegings sluit in duimsuig, hik en al die ander normale reflekse wat by 'n pasgebore baba gevind word (minus die vokale responses en funksionele asemhaling). Sommige kenners meen ook dat jou baba gesigsuitdrukkings kan maak. Bloedselle vorm ook in die rugstring van die fetus.
Jy behoort baie water in te neem om te help om water retensie te voorkom en ook om seker te maak dat enige hoofpyne tydens jou swangerskap nie materialiseer.
Bronne:
Louw, D.A. 1990. Menslike ontwikkeling. Tweede uitgawe. Pretoria: HAUM – Tersiêr.
Cooke, Kaz. 2006. The Rough guide to Pregnancy & Birth. Second Edition. London: Rough Guides – Pregnancy.
The Wikipedia, the free encyclopaedia. Linea nigra. Retrieved 24 June 2008 from http://en.wikipedia.org/wiki/Linea_nigra
The Wikipedia, the free encyclopaedia. Lanugo. Retrieved 24 June 2008 from http://en.wikipedia.org/wiki/Lanugo
As ouers het ons almal ondervindings, soms vreudgevol en vrolik, ander traumaties en hartseer. Ons wil graag van jou hoor, deel jou gedagtes en vrese met ons.
Lees meer »
Lewer kommentaar
Nuutste kommentaar
Ander kommentaar
Sien alle kommentaar»