

Ek onthou jare gelede het iemand my vertel dat 'n vrou vry gespreek is nadat sy haar man vermoor het gedurende “daardie tyd van die maand”. Of dit waar of 'n “urban legend” is gaan ek nou nie vir julle kan sê nie, maar ek kan vir jou vertel dat ek self deurgeloop het met erger PMS.
My storie het darem nie daar geeindig nie maar ek moet sê ek is goed getoets. Nou almal praat altyd van die vreeslike twee's. Hulle vertel van die vloermoere die skree die ongeluk wat jou jonge bloedjie sommer goedsmoeds kan oorval en daar lê die spreekwoordelike ding; maar vir een of ander rede waarsku niemand jou oor die vier's nie. Ja die vier's waar jou kind jou elegant en in die pragtigste taal jou in die spreekwoordelike dinges kan stuur.
Ongeag watter kant jy aanvoer in jou soeke na 'n redelike en voordelige uitkoms met jou vier jarige kan jy maar weet JY MORS JOU TYD. NIEMAND kan meeding met die logika van hierdie alwetende mensie nie.
Dit is badtyd en slaaptyd - “maar dit is nog nie donker nie”. Jy kan nie drie uur die oggend deur jou venster klim en buite gaan speel met die twee Rottweiler nie - “maar ek het julle nie wakker gemaak nie en ek wou maar net gaan speel.” Jy moet medisyne drink - “maar ek is nie siek nie.” So gaan ons dae aan, maar ek loop die storie vooruit. Laat ek by Vrydag aand begin.
Vrydag aand is Mia my bloedjie se matras nog nat na 'n glipsie in die nag. So maak ons 'n plan – sy sal kamp op die grond en net om dit ekstra spesiaal te maak kan ons baie ou staffie Gaia saam met haar op die matras op die grond slaap.
Mia is so opgewonde sy kan skaars wag om te gaan slaap. Ek en manlief klop onsself op die skouers omdat ons so vindingryk is. Min het ons geweet... Na omtrent 30 minute se vrede hoor ons snaakse geluide uit Mia se kamer. Na nadere ondersoek is dit Gaia, wat grom kla, oor Mia haar kamervenster oopgemaak het, en die Rottweiler Z en Chelsea “entertain”. Nodeloos om te sê Mia se Gaia regte word opgeskort venster word toegemaak en almal gaan weer terug na wat hulle gedoen het voor die lawaai.
Mia raak aan die slaap my man het haar die dood voor oe gesweer as sy nie nou tot ruste kom nie. So slaap ons rustig tot êrens in die na-nag. Mia se gille maak ons wakker, en manlief is flink uit die vere. Die enigste ding wat my tref is dat die gille uit die verkeerde oord kom. Dit klink asof Mia buite is. Dit kan mos nie...
Tussen snikke kom die storie. Nadat sy “klaar geslaap het” het sy besluit om bietjie buite te gaan speel. Omdat altwee die Rotties in hulle hondehokke was het sy besluit om in Chelsea se hok in te klim en miskien verder te slaap. Na 'n rukkie daar het sy besluit om eerder in haar boomhuis te gaan speel, maar noudat ons ons ware kleure gewys het wil sy net met ons deel dat sy eerder by die bure oorkant die straat wil gaan bly. Hulle is vriendeliker as ons...
Stomgeslaan. Op hierdie stadium is my hormone nog nie so op hol nie en ek bly kalm. Ons praat ek troos, alhoewel ek agterkom dat ek geen hond haar-af maak met my verduidelikings oor donker en slaap en buite is nie regtig die plek vir jou die tyd van die aand nie.. Hoe meer word ek met elke redenasie met 'n teenpool ontmoet. Alles van sy het haar flits tot maar die Rotties is vriendelik en sal haar beskerm tot... tot... tot... Sela, sy kom slaap maar by ons vir die res van die aand, dan weet ons minstens waar sy is.
Saterdag is 'n redelike dag almal is rustig en gerus dat ons die middernagtelike lopery nou agter ons geplaas het. Sondag skop ook redelik normaal af, maar ek dink teen 5 uur die middag skop al die min slaap en besige tye in en my liewe dogter verander in 'n tiener. NIKS wat ek sê kan haar kry om ENIGE iets te doen wat ek vra nie. Kom eet, ek is nie honger nie. Gaan bad, ek is nie vuil nie. Gaan slaap dit is nog nie donker nie. Ek vra ek pleit ek dreig vir alles is daar 'n antwoord. Die ergste van alles is dat as dit nie uit 'n vier-jarige se mond gekom het nie sou dit my nie so uitge"freak" het nie.
As dit my man was sou ek gesê het goed dan gaan jy maar voel hoe jy voel more oggend... maar nee vandag gaan ek haar wys, en sekermaak dat sy verstaan. Na baie mooi praat neem ek nou maar oor. As jy dan nie die DVD wil afsit nie sal ek. Ek dink die storielyn en vlak van geweld is nie gepas vir jou ouderdom nie ek gaan dit bere tot jy groter is. Dit is my "movie" pappa het dit vir my gekoop en hy kan nie alleen gebêre word nie, dit moet by sy maatjies kom. Ek gee toe, ek meen dit is redelik en ons wil hê sy moet goed wegpak as sy dit gebruik het.
Mia 1- Mamma 0 – kom eet ek wil nie. Dan gaan jy slaap sonder om te eet, - ek wil eers buite gaan speel. Dit raak laat die son sak al – dit is nog lig die son sak nie... Ai ai ai... Ek byt my tong ek kners op my tande maar voel die muur verkrummel.
Nadat ek my vas voorgeneem het om haar nie 'n pakslae te gee nie, is ek uit opsies uit. Beheer sal oorgeneem moet word. Sy kry haar pak dit is hier waar dinge rof raak. Sy wil alleen wees. Ek kan dit doen. Ek los haar in haar kamer, na 'n rukkie gaan ek terug nou kan ons mos weer praat.... maar Mia is deur die venster op pad na die honde hulle moet haar troos hulle gaan verstaan... Ek sien rooi. Ek wil haar beskerm teen alle gevaar sy kan nie net goedsmoeds in en uit haar venster klim soos sy wil nie. Ag nee as ek maar net kan stop so kry sy haar tweede pak in 5 minute. Hierdie keer bly ek in die kamer.
My dogter snik sy soek haar pa, hy is uit. Ek weet nie watter kant toe nie, voel soos 'n skurk en party van julle sal seker sonder twyfel glo ek is een. Ek skakel my man. Geen antwoord hy het gaan fliek. Probeer weer los 'n boodskap probeer nog. Uiteindelik kry ek hom. Ek huil dit uit ek is hartseer want ek weet ek was onredelik, ek weet die laaste slae was uit woede. Mia huil en ek weeklaag.
Hoe meer ek huil hoe minder kan sy verstaan wat aangaan – ek is dan sterk ek huil nooit nie. Ek moet ophou huil asb. Op die ou einde gaan ek maar na my kamer, lê in die donker dink aan my sondes. Na 'n rukkie kom Mia ook met haar bersie en slaapgoed.
Sy het intussen aandete geëet. Dankie mamma die kos was lekker. Ek kry geen woord uit. Sy kom lê by my. Ek vra verskoning. Sy sê dit is goed dat ek vir haar jammer sê. Ek voel aaklig – al het sy my heel middag geslaan en selfs eenkeer kastig gestrek en my raak geskop, kan niks 'n pak uit woede reg praat nie.
My man daag op, roep my dogter maak haar reg vir die bed dit is donker buite en sy gaan klim in die bed sonder enige verdere teëpraat.
Ek en manlief praat, hy luister sonder om enige iets te sê wat my slegter laat voel – ek voel nog erger! Op die ou einde gaan ek ook maak regmaak vir bed. Slaap oorval my. Maandag oggend word ek wakker, net om my dogter 7 uur die oggend buite te kry. Sy is alweer deur die venster.
Ek gee weer die preek. Sy gee weer al haar redes oor hoekom dit nie 'n slegte idee is nie. My hande is in my hare. Op die ou einde is Maandag blouer as blou. Ons Rotties meen dat as Mia hulle hokke mag deel kan hulle in haar opblaas swembad swem.
Ek kan nie help om te wonder oor die humor daarin nie. My kind wil 'n hond wees en ons honde wil kinders wees. Ek gaan laai haar by die skool af. My hart is swaar. Ek kom huistoe gooi Sweeto oor my Corn Flakes. Gaan sit en bedink my lot.
My dogter is die produk van ons huishouding waar ons wil hê sy met ons moet praat sê as sy nie saamstem nie, en weet dat sy na geluister word. Na jare waar ons hierdie beleid gevolg het kan ek nie verwag dat sy noodwendig sal spring as ek so sê nie. Ek wil nie hê dat sy goedsmoeds alles aanvaar as waar nie maar ek wil ook respek hê.
Ek werk aan 'n plan. Dinge gaan nie noodwendig op hierdie bloue Maandag verander nie maar ek gaan ferm wees rondom 'n paar goed. Sy het die reg om haar mening te lug maar op 'n manier wat dit laat klink asof alle heil en pag aan haar behoort nie. Sy sal almal met respek behandel. Geen kwaai babatjie kyke en stare nie. Sy sal sekermaak dat haar stemtoon normaal is.
Van nou af gaan ek my mening te lug maar op 'n manier wat dit laat klink asof alle heil en pag aan my behoort nie. Ek sal almal met respek behandel. Geen kwaai kyke en stare nie. Ek sal sekermaak dat my stemtoon normaal is.
My dogter word groot en daarmee saam kom die verantwoordelikheid om seker te maak dat sy weet dat sy gehoor word, dat wat sy sê waarde dra. Dat sy nie nodig het om net goedsmoeds al ons bevele te gehoorsaam nie. As ons onredelik is kan sy ons daaroor opneem. Ons kan onderhandel, maar dan moet die uitkoms albei pas.
Daar gaan nog baie baie maande se PMS verby kom en ek gaan sekerlik party dae beter vaar as ander. Ek gaan nog baie klippe kou en so ook gaan my dogter. As ons egter met liefde en respek teenoor mekaar optree sal ons wen.
Die punt is nie om haar te los om haar eie ding te doen nie, maar om haar te dissiplineer sodat sy verantwoordelikheid vir haar dade neem. Dit gaan daaroor dat sy realistiese uitkomste maar moet aanvaar as deel van die lewe en uit haar foute leer.
Vier mag dalk jonk klink om die weg te baan maar soos om te leer klim is dit nodig om te leer hoe om besluite te maak – as mens eerder foute maak op vier met jou keuses en daaruit leer hoop ek dat wanneer sy werklike lewensnoodsaaklike besluite neem sy goed toegerus sal wees om so te maak.
Verantwoordelikheid is iets wat ons almal vir ons kinders wil leer, respek en liefde ook laat ons dan maar eerder by mekaar leer as om slegs die instrukteur te wees. Hierdie was nie my beste uur nie, maar minstens het ek iets daaruit geleer.
As ouers het ons almal ondervindings, soms vreudgevol en vrolik, ander traumaties en hartseer. Ons wil graag van jou hoor, deel jou gedagtes en vrese met ons.
Lees meer »
Lewer kommentaar
Nuutste kommentaar
Ander kommentaar
Sien alle kommentaar»