

Ek het nou die aand gedink aan die onvoorwaardelike liefde wat 'n ouer vir sy kind koester. Hierdie liefde is die band wat selfs die lelikste baba beeldskoon vir sy ma maak, wat alle gedrag oorsien en kan verduidelik. Dit is die liefde wat die mees gemiddelde tennisspeler in die oë van die ouers in die nuwe Becker of Bjorg verander; of miskien Nadal of Sampras...
Om mee te begin is hierdie liefde as 'n ouer so maklik, daar is geen voorbehoud, of rede, jou kind het nie nodig om enige iets te doen behalwe glimlag en jou hart swel van gevoel. Selfs as jou kind slaap kan jy nie help om te loer hoe die krulle en die pruil mond soos 'n engel sag en onskuldig op die kussing lê nie. Aan die begin is daar geen verwagtinge van wat jy gaan kry uit hierdie verhouding nie. Wat jou kind moet doen om jou liefde te verdien nie... Jy is slegs lief vir hierdie mensie wat net wonderlik en oulik en pragtig is.
Soos jou kind ouer word, verander dinge dalk, een of ander tyd moet jy erken dat jou kind miskien nie altyd die sosiale grasie het wat mens van die kleine wonder sal verwag nie maar meestal kan mens dit afmaak met 'n goeie verskoning van te veel of te min dit of dat. Ongeag die “oortreding” die fout is nie in jou kind se temperament of gene nie... Alles kan verduidelik word en die blaam kan op ander skouers geplaas word.
Dan kyk mens na die liefde wat ons aan ons lewensmaat toevertrou. Die meeste verhoudings is gebaseer op verwagtinge en voorbehoud. As jy dit doen sal ek dat doen... Mense is vinnig om te kritiseer en te boelie oor wat gedoen en gelaat is. Wie die meeste tyd en energie insit, hetsy werk of huis. Wie se werk wat is... Is hierdie werklik 'n gesonde prentjie?
In 'n gewone gesonde huwelik is dit nie nodig om heeltyd boek te hou van die kwaad nie. Hoekom kan ons nie ons lewensmaats dieselfde hoeveelheid ruimte en krediet gee as wat ons ons kinders gee nie? Hoekom kan ons nie ook namens ons vennoot in liefde en lewe verskonings uitdink vir 'n sosiale misstap of 'n teleurstelling nie? Hoekom voel dit soms asof dit wat gedoen is nie genoeg is nie?
Voor jy volgende keer ongelukkig raak oor jou lewensmaat laat opdaag by die huis, dink aan die moontlike redes. Moenie net die slegste verwag nie. Wees bly oor die klein dingetjies kyk met nuwe oë na hierdie mens wat jou help om die grootste wonder in jou lewe te geniet. Jou kind is veronderstel om die verpersoonliking van julle liefde te wees.
Vier die lewe en die liefde saam. Vergewe en verstaan beter; die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee is onvoorwaardelike liefde vir jou lewensmaat.
Hierdie liefde is nie een wat ou koeie uit die sloot grawe nie, maar gevestig op gesonde openhartige kommunikasie. Eerlike en opregte vertroue, en 'n groot dosis empatie.
As ouers het ons almal ondervindings, soms vreudgevol en vrolik, ander traumaties en hartseer. Ons wil graag van jou hoor, deel jou gedagtes en vrese met ons.
Lees meer »
Lewer kommentaar
Nuutste kommentaar
Ander kommentaar
Sien alle kommentaar»