

Die naweek was ons almal op die plaas gewees. My pa en ma met hulle 4 kinders en ekstra trou aanhangsels wat die kroos dus tot 6 op hierdie stadium vergroot + kleinseun wat tel vir nog so paar ekstra. Ekke, die enigste met ’n kind en nog een op-pad. Die weird ding is dat ek die hele gesinsopset vanuit ’n perspektief bekyk, soos wat die ander 3 kinders dit nie sommer sal sien as hulle nie self kinders gaan hê nie!!!! Hulle begrip strek tot by hulself en nie baie verder nie. Hulle waardeer hulle, maar ek glo ek waardeer hulle meer omdat ek nou eers vir die eerste keer in my lewe regtig kan assosieer (en believe you me ek kan nie, want hulle het 4 en ek nog net 1).
Ek sien klein dingetjies raak wat net ’n ma of pa kan raaksien. Klein gebaartjies, ’n gevoel, woord of beweging wat net anders lyk vandat ek ’n ouer is EN ek kry die grootste respek vir hulle en wil hulle kroon as die beste ouers in die wêreld. Hoe het hulle dit reggekry om 4 kinders wat altyd honger is so geballansseerd kos te gee (en ek sukkel om groente in een keel af te kry)? Hoe is dit dat hulle ons geleer het om so kreatief en vol verbeelding te wees, onafhanklik en vol moed vir nuwe vreemde omstandighede. Ek dink die heeltyd – as ons maar net dieselfde basiese beginsels kan aanleer vir ons kinders sal dit te wonderlik wees.
Dit laat my met ’n taamlike denkproses, want tye het verander. Ons moet twee maal so hard beplan om gesonde vars kos in die huishouding te kry – ons het die wortels en vrugte in ons eie tuin gaan pluk as kinders. Die wortels help skil en vanaand geëet, want dis soos dit gewerk het. Die vrugte was ons automatiese gesonde snacks, want die bome was ook ons speelplek. Nou moet ek baie kreatief wees, voor wortels geëet word, moet dit eers ’n mannetjie of iets “snaaks” wees. Vrugte koop ek en ’n groot boom het ek nie eers in my tuin nie. Ek plant hulle darem – maar hulle moet nog groei. So ons speel in die parkie (wat die tieners uit verveling breek tydens lang vakansie en hoe verduidelik jy vir ‘n 3 jarige daar is groter kinders wat nie omgee nie en hulle lekker swaaie breek?). Ons plant darem nou al ons eie kruie in die tuin en seunskind doen ywerig mee. Hy weet hy moet ruik en proe daaraan – dit help dalk al met iets.
Ek hou my kind dop op die plaas in die buitelug. Hy is mal daaroor. Die ontdekkingsreise hou nooit ooit op nie. Alles word bekyk en bevoel en geHOEKOM? Ek kry lekker tot in my tone as ek sien hoe hy dit geniet en absorbeer. Hy sien soveel diere in drie dae (van bobbejane, ape, springbokke, volstruise, steenbokkies, hase, voëls) soos in ’n lang tyd nie. Gewoonlik sien hy die Stodels diere (waarvoor ek ook maar tog te bly is.)
Hy sien hoe bloeisels uit bome kom en verstaan dat dit later vrugte word wat ons kan eet (nou moet hy dit net nog begin eet ook). Hy bekyk die sonsopkoms oor die berg en sê dit is ’n mooi dag ons moet nou almal opstaan en begin met die mooi dag. Oupa staan lankal reg met gesonde Oats pap en biltong kan nie wag om seunskind nog iets van die plaas te leer nie, want dis mos hoe dit moet wees “Stadskinders moet leer hoe die aarde, grond, diere werk”. Dit maak sin. Ek moet dit onthou.
Ouma bak koek en seunskind moet kom roer – moet onthou om hulle deel te maak van die kombuispret!!! (Ek doen dit darem, maar sommige dae wanneer ek gedaan voel swig ek voor die kassie met die prentjies.
Ek dink aan my pa en ma. My pa en ma het toener jare al gedeelde verantwoordelikhede. My pa kan net so goed kos maak en doeke omruil soos wat my ma op ’n nat modderpad kan bestuur. Daar het hulle vir ons ’n goeie voorbeeld gestel. Ek moet sê my man se bedrywigheid in die kombuis help dat die aand roetine baie mooi vloei in ons huishouding en ek glo dit sal ’n goeie voorbeeld stel vir die kinders. Dit is ’n seën wat ek elke dag tel.
Miskien moet mens ’n tydjie vat en die dinge wat jou ouers goed gedoen het neerskryf en kyk hoe mens dit vandag in die nuwe era kan gebruik (al is dit ’n nuwe konteks) om ons kinders te leer wat belangrik is en wat nie. Miskien is dit hulle grootste erfenis, ’n belegging in hulle toekoms.
Ek noem dit vinnig aan my 2 broers en suster – dat hulle ons ouers moet waardeer en dat ons 4 nie ’n idee het hoe bevoorreg ons is nie. Ek weet daar is waardering, maar vanuit ’n baie ander perspektief as ’n mede ouer. Dis eers wanneer die meul van ouerskap jou maal dat jy die lewe (en hoe ook al dit jou omvorm) insien en verstaan op ’n vlak wat net ’n ouers sal begryp. Terwyl ek hier skryf, skop ons nuwe babatjie en voel ek die lewe hier in my. Ek wonder wat die nuwe fase alles inhou en sien benoud en baie opgewonde uit daarna.
As ouers het ons almal ondervindings, soms vreudgevol en vrolik, ander traumaties en hartseer. Ons wil graag van jou hoor, deel jou gedagtes en vrese met ons.
Lees meer »
Lewer kommentaar
Nuutste kommentaar
Ander kommentaar
Sien alle kommentaar»