Looking for something specific?

Article

Hierdie deel van die webblad bestaan uit artikels geskryf deur ouers wat hulle ervarings en stories deel of joernaliste. Voel vry om jou storie met ons wil deel. Jy kan ook kommentaar lewer oor enige van die artikels in die kommentaar blokkie verskaf.

For an english version of this web site go to www.planetparent.co.za

Maak gereed om te borsvoed

Petro Pretorius [17 July 2009] -

Toe ek swanger was het ek alles gedoen wat moontlik was en wat ek gemeen het sou vir my dogter beter gewees het, ek het al my ondersoeke nagekom en al die sonars gehad. Die een ding wat ek egter nie kón regkry nie was borsvoeding.

Dit is interessant dat uit 'n gesprek wat ek en my suster gehad het dit algemeen is om te aanvaar dat mense tyd afneem van werk vir jou ginekoloog en jou sonars en enige ander toetse wat gedoen moet word as deel van swangerskap en ter voorbereiding vir jou kind se geboorte; maar tog word daar min gedoen om te verseker dat jy suksesvol kan borsvoed.

In die afgelope ruk het ons baie oor borsvoeding en ons algemene idees en probleme rondom borsvoeding gesels, ek moet sę dat ek al meer agterkom dat ek al die verkeerde dinge gedoen het en dat ek nie genoeg geweet het om myself of my kind te kon help om dit reg te kry nie.

So hier is 'n paar dinge wat ek meen wat uit ons gesprekke spruit wat elke ma wat wil borsvoed sal help om nie net suksesvol daarmee te wees nie maar ook om dit die wonderlike positiewe ervaring te maak wat dit behoort te wees.

Kry ondersteuning:
Die een ding wat mens soveel as moontlik van moet hę is ondersteuning – dit is egter algemeen dat die mense wat jy kies om jou oor die algemeen te ondersteun, dalk nie die beste gaan wees om jou te help met borsvoeding nie.  Dit is dus belangrik dat jy reeds in die laaste drie maande van jou swangerskap probeer om by 'n borsvoeding ondersteunings groep inskakel. Jy mag dalk nou vra hoekom jy borsvoed dan nie hoekom het jy nou al ondersteuning nodig?

Ten eerste is dit belangrik om te weet dat borsvoeding nie vir alle vroue maklik is nie. Dit is ook van kardinale belang dat jy met iemand wat jy vertrou kan skakel om jou te help indien jy sou vasbrand. Dit is ook belangrik om ander ma's se stories en verhale te hoor oor hoe en waarmee hulle gesukkel het. Vertrou my wanneer jy sukkel en nie seker is wat om te doen nie, sal hierdie stories jou deur die moeilike tyd dra.

Hierdie groepe is ook (meestal) gratis en sal jou kan bystaan en help soveel moontlik en indien hulle nie suksesvol is nie sal hulle jou dan na 'n laktasie konsultant verwys wat jou dan kan help. Laktasie konsultante is wonderlike mense, maar soms is die advies wat jy nodig het so eenvoudig dat hulle nie eens nodig is nie.

Die kans is baie goed dan jy by een van hierdie groepe iemand sal ontmoet wat jou dwarsdeur jou “baby-blues” en pajama dril kan bystaan. Dit is wonderlik as jou ma of 'n ander familie-lid jou kan help, maar dit is belangrik dat jy ook 'n groep mense om jou skaar wat ONLANGS ma's geword het, en op datum is met die nuutste produkte en tendense.

Dit is ook belangrik dat die persoon wat jou raad gee minstens self geborsvoed het en dus weet wat die moontlike probleme is wat jy miskien mee kan worstel.

Bemagtig jou self met soveel informasie as moontlik:
Wanneer mens swanger is wil jy soveel moontlik weet, wat gebeur in jou lyf, met jou baba, wat kan mens verwag.

Ek moet sę dat borsvoeding een van die laaste dinge op my lysie van inligting was. Ek het baie min daarvan gelees en die uur wat in ons voorgeboorte-klas daaraan afgestaan is was nie genoeg om naastenby te help om my genoeg informasie te gee om redelike besluite te neem nie.

Ek het goedsmoeds en maklik myself aan medici oorgegee en die maklike (of so het ek gedink) pad gevat en toe dinge moeilik gegaan het Mia op formule te plaas. Glo my as ek weet wat ek vandag weet en ek al die besluite weer oor kon neem sou ek volhard en nie luister na die “het nie genoeg melk nie” stories nie. Ek sou ook die druk vir Mia om meer gewig op te tel in die eerste week beter oorkom het. Ek sou myself nie kasty het en sodoende so opgestres gewees het dat ek nie kon borsvoed nie al wou ek hoe graag.

Ek wil ook net byvoeg dat jou hormone wat wipplank ry na die bevalling jou nie enigsins help om helder en eerlik na die situasie te kyk nie, en as eerste ouer is dit 'n ongeluk wat wag vir 'n plek om te gebeur.

Bestee dus tyd om informasie te kry. As jy gesprekke met mense het en hulle ervarings wat negatief rondom borsvoeding onthou dat dit gebeur en met die regte leiding kan jy en omtrent 95+% van alle vrou suksesvol wees.

Kyk na die hospitaal waar jy gaan kraam:
Dit is belangrik dat jy bewus is van die probleem van tepel verwarring. Oor die algemeen sal/kan niemand jou verplig om van 'n "dummy" of fopspeen gebruik te maak nie, maar as jy suksesvol wil borsvoed moet jy ingedagte hou dat die gebruik van enige kunsmatige tepels die saak vir jou kan bemoeilik.

Dit is ook belangrik dat jy soveel tyd saam met jou baba spandeer en 'n band met mekaar opbou. Maak seker dat die hospitaal nie bottels gebruik as hulle besluit om “top-up” voeding vir jou kind te gee nie. Onthou ook dat borsmelk so gepak is met goeie goed dat jou kind nie noodwendig soveel daarvan soos formule melk gaan benodig nie.

Dit is ook belangrik dat die hospitaal baba-vriendelik is en dat jy nie van jou baba geskei gaan word vir enige rede nie. As jou kind nie enige ernstige mediese hulp nodig het nie is daar geen rede vir jou kind om nie by jou te bly 24/7 nie. Self die eerste aand na jy geboorte geskenk het!

Alle hospitale sal miskien vir jou sę dat hulle baba vriendelik is maar dit is nie altyd die geval nie, en as mens terugkyk na die dinge wat jy nie bevraagteken het nie kan daar baie onbeantwoorde vrae wees jy nagelaat het om selfs te uiter.

By die huis:
Een van die grootste vyande van borsvoedende ouers is die plaaslike kliniek verpleegster. Hulle is daar om jou te ondersteun en te help, maar hulle is ook daar om “seker” te maak dat jou kind wel gesond groei.

Soos elke ma wat al enige boek oor babas gelees het sal jy weet dat dit algemeen is vir jou baba om gewig te verloor en rondom twee weke sal neem om weer by hulle geboorte gewig uit te kom. Jou kliniek suster mag dalk bekommerd wees en in haar ywer om jou te help, jou heeltemal verward en onkapabel te laat voel.

Weer eens as jy ENIGSINS ongemaklik voel met jou kliniek suster of einde ander mediese personeel, kry vir jou 'n ander een. Hou aan soek totdat jy iemand kry wat jy vertrou, en waarmee jy gemaklik is. Dit is nie net vir jou nie, maar ook jou baba van kardinale belang dat julle in goeie betroubare hande is.

Moenie oorskakel na formule net omdat jy sukkel en jy onbekwaam en bekommerd voel nie. Die grootste redes vir vrouens om op te hou borsvoed is as gevolg van seer tepels en 'n kommer oor melk produksie. Beide hierdie redes kan hanteer en bestuur word.

Bly kalm:
Ek weet dit is maklik vir my om te sę; my dogter is twee en 'n half en gebottel voed, en ... en ... en ... maar dit is die grootste probleem wat jy gaan ervaar in die eerste paar dae by die huis. Niemand kan jou voorberei op die gevoel van onhandigheid wat jy gaan ervaar nie. Goed bedoelde raad van ander mense mag dalk opgeneem word as 'n persoonlike aanval en soos met jou swangerskap behoort jy dit te neem afhangende van die oord.

As jy gespanne is sal jou baba dit aanvoel en ook gespanne raak. Dit sal jou weer meer gespanne maak en dan sal jou baba... dit is 'n bose kringloop. Hierdie is 'n goeie tyd om die “time-out” metode toe te pas VIR JOUSELF!!!! Verwyder jouself uit die situasie uit haal diep asem kry jouself onder beheer en probeer weer. Hierdie sal beter werk vir almal wat betrokke is; moenie ingetrek word in die kolk van negatiewe gedagtes en spanning nie – hierdie sal borsvoeding bemoeilik en dan tot meer spanning lei.

Wees ook realisties oor wat jy en jou baba op 'n slag kan hanteer, as jy oorweldig voel dink hoe hierdie klein mensie wat in jou sorg geplaas is voel.

Hierdie is net 'n paar lesse wat ek uit eie ervaring geleer het, vir my en my dogter was dit te laat; ek hoop dat dit nie dieselfde vir jou sal wees nie...

Boekmerk artikel

Wat is dit? »

Lewer kommentaar

Nuutste kommentaar

Daar is tans geen kommentaar

Ander kommentaar

Sien alle kommentaar»

Vertel ons jou stories

Ons wil graag jou storie ontvang

As ouers het ons almal ondervindings, soms vreudgevol en vrolik, ander traumaties en hartseer. Ons wil graag van jou hoor, deel jou gedagtes en vrese met ons.

Lees meer »
BOOK Exact
StorieKlub