

Ons is al deur ‘n paar krisisse met die kinders en hulle siektes. ‘n Kort opsomming sonder om detail te gee: my jongste Luané was 2 maande oud en al deur die hande van 6 pediaters as gevolg van longontsteking op 21dae wat verkeerdelik as boonste lugweg infeksie gediagnoseer was. Daarna het septisemie gevolg 3 weke later. Gelukkig het ek nie die omvang van die siekte besef toe sy gediagnoseer is nie. Eers gedurende die week in intensiewe sorg (ICU) het die dokter en susters my vertel hoe siek sy eintlik was. Niemand het ooit detail gegee van hoe ernstig sy was nie, behalwe dat sy ‘n baie siek meisie was, maar dinge het gelukkig na die eerste dag begin beter raak.
Dit was eers nadat ek aan ander mense vertel het, dat ek eintlik die waarheid in verband met septisemie uitgevind het – dodelik indien nie dadelik en korrek behandel word nie!!
So het ons maar deur die opdraandes gegaan, met vriendinne wat altyd kloek van “ons weet nie hoe jy alles gedoen kry nie”. Die antwoord is vandag vir my voor die hand liggend: Daar is nie tyd om te dink nie, jy kan jouself nie jammer kry nie, daar is net een antwoord jy moet net aangaan om te oorleef.
My oudste kind Cara: was toe sy klein was ‘n ‘moeilike kind’. Niemand het my geglo as ek gesê het sy slaap net 15min op ‘n slag gedurende die nag nie. Ek was ‘n werkende ma en het party dae nie geweet hoe ek deur die dag gekom het nie, net om weer nie te slaap nie. Almal se kinders slaap mos sleg by tye – ja maar myne het vir langer as 2 jaar aangehou. Later het sy begin om ‘nagmerries’ te kry en vertel van die apies en diere in haar kamer wat haar gaan aanval – maar dis mos normaal op ‘daardie ouderdom’.
Uiteindelik het ek besluit om my dagmoeder die trekpas te gee. Ek kon nooit my vinger daarop lê nie, maar ek het heeltyd net ‘n gevoel gehad. Ons het paar keer woorde gehad, maar ek het myself getroos, dat Cara nooit huil as ek haar aflaai nie, en sy was ook nou nie uit haar nate in die middag as ek haar kom optel nie – so asof sy maar net daar kon bly en aangaan. Natuurlik niks goed vir enige eerste ma wat nog onder die druk van skuldgevoelens deurloop nie.
Binne 3 maande het my kind ‘n persoonlikheid verandering ondergaan by haar nuwe dagsorg! Sy het begin deelneem aan aktiwiteite en ek het toe eers besef – sy het net nooit in die verlede emosie getoon nie, behalwe die vreeslike uitbarstings oor naweke. Nou was sy eendag opgewonde om speelgroepie toe te gaan, dan weer nie lus nie. Wat normaal is, want ons is nie altyd lus vir die dag wat voor ons lê nie, en ander kere kan jy nie wag om iemand by die werk iets te vertel nie.
My wêreld het ineengestort toe ek 18 maande later uitvind my vorige dagmoeder word aangekla vir die dosering van die kinders met Valium; ‘n Skedule 5 slaapmedikasie vir volwassenes! Skielik was die nagmerries en uitbarstings oor naweke dalk eerder toeskryfbaar aan onttrekking simptome. Ek is nie eers seker wat met die hofsaak aangaan en waar hulle in die proses is nie – ek glo wat ek glo, en geen hof sal my van opinie kan laat verander nie.
Ons is ‘n paar keer deur koorsstuipe met Luané – veral toe sy nog baie kleiner was. Dus toe Cara laas week ook stuipe kry, met koors wat daarna gevolg het. Het ons nie opgespring 12uur die nag en hospitaal toe gejaag nie. Ons is deur die ‘normale’ roetines en gelukkig het sy nie ophou asem haal gedurende die stuipe nie. Dit het wel langer geduur as Luané se stuipe. Ek besluit toe tog die volgende oggend om haar pediater toe te neem. Ek was nie voorbereid vir die uitslag nie: “Mevrou dis nie normaal om op 5jaar en 8maande die eerste keer koorsstuipe te kry nie. Ons moet epilepsie ondersoek!”
Weer eens het ek die bloed hoor druis deur my are en ja ‘normaal’ opgetree. Ons het ‘n afspraak gemaak en die EEG laat doen – ek wag nog vir die uitslae. Wat baie moeilik is, is om so kalm moontlik op te tree vir jou kind se onthalwe. Sy kan nie agterkom ek wil al die drade van haar kop afruk en uitstorm by die deur en weghardloop na ‘iewers’ nie! Ek moet haar kalm hou, want sy mag nie beweeg terwyl hulle die toetse doen nie.
Wat ek vandag met julle wil deel na my lang storie: Dis nie maklik om ‘n ma te wees nie!!!
Niemand berei mens voor op die tye na geboorte nie. Jy gaan weke vir voorgeboorteklasse en word vertel van die kraamproses en hoe om ‘n babatjie te bad. Al daardie inligting word binne ‘n week gebruik – WAT VAN DIE TYD DAARNA??? Waar is die nageboorte klasse – by die borsvoedingskliniek het almal ‘n opinie, maar dit werk nie 12uur in die nag wanneer jy alleen is nie. Jou kind tel nie genoeg of dalk te veel gewig op.
Jy kan jouself altyd troos en sê: die of daardie een se kind is sieker of dalk oorlede, maar dit maak nie jou situasie beter nie. Elkeen van ons het ander omstandighede, veranderlikes en persoonlikhede, dus kan hulle lyk of hulle die moeiliker situasie beter hanteer as jy, maar 2 mense kan nie met mekaar vergelyk word nie.
Ek het nie ‘n oplossing van hoe om deur die krisisse te kom nie, maar wil eintlik net vir ander ma’s daar buite vertel, ek dink dis vandag meer normaal om nié te ‘cope’ nie as wat almal voorgee. Ons ouers en voorouers het beter ondersteunings raamwerke gehad, daar was altyd ‘n ouma of ‘n tannie of iemand wat gehelp het as jy nie meer kan nie. Nou moet almal bewys dis die era van superma wees – jy kan werk en ‘n gesonde, gelukkige, gebalanseerde kind grootmaak. Gee jouself ‘n breek en erken as dit sleg gaan, vra hulp as jy raadop is, en kry professionele hulp as dinge begin handuit ruk!
Ek wil so graag vooruit gaan en verby die oorlewing fase kom,…
_____________________________________________________________________________________
Vir meer informasie oor Koorsstuipe onder die kenners blad - Kliek hier>>
As ouers het ons almal ondervindings, soms vreudgevol en vrolik, ander traumaties en hartseer. Ons wil graag van jou hoor, deel jou gedagtes en vrese met ons.
Lees meer »
Lewer kommentaar
Nuutste kommentaar
Ander kommentaar
Sien alle kommentaar»