

Elke ouer word gebombardeer met 'n legio van nuwe navorsing op 'n daaglikse basis, en heelwat van die bevindings is totaal en al teenstrydig. Hoe maak mens sin uit dit alles uit?
Navorsing soos statistiek, kan aangewend word om enigiets te bewys of te diskrediteer, en in die meeste gevalle sal beide teorieë korrek wees maar onder spesifieke toestande. Dit is dus baie belangrik om seker te maak dat jy weet onder watter toestande toetse plaasgevind het. Wat was die navorser se hipoteses? Wat wou die navorsing dus bewys?
Hier is 'n paar maniere om kop te hou met alles waarmee mens daagliks gekonfronteer word:
1.Is die bevinding in 'n wetenskaplike manier gemaak of was dit 'n geïsoleerde geval?
In die meeste gevalle neem dit jare en baie studies om 'n spesifieke punt te bewys, en soos die spreekwoord sê kan een swaeltjie nie 'n somer maak nie. Baie stories wat in die media aangehaal en oorvertel word is nie mediese navorsing nie, maar slegs 'n unieke gebeurtenis. Dit is juis wat dit nuuswaardig maak, en behoort as sulks nie aangesien te word as nagevorsde feite nie.
Self as die studies op navorsing gegrond was, is dit belangrik om ander navorsing in die veld te evalueer.
Maak ook seker dat jy nie advertensie artikels as die ware Jakob aansien nie, enige advertensie artikel moet as sulks vertoon word en sal dus natuurlik meer geneig wees om 'n spesifieke produk in 'n beter lig te plaas.
2.Kyk na die studie:
Was die studie op mense of in die laboratorium uitgevoer?
Indien dit nog slegs in die laboratorium uitgevoer is, kan dit nie sommer so aanvaar word dat presies dieselfde uitkoms binne die menslike liggaam aangetref sal word nie. Selfs navorsing wat op diere uitgevoer word, word nie altyd met dieselfde gevolge in mense bespeur nie.
Wie was betrokke by die studie?
Navorsing op volwassenes is nie altyd van toepassing op kinders nie. Elke studie behoort die demografiese informasie van die toets-groep aan te dui, hierdie informasie kan dan gebruik word om die relevansie van die studie te bepaal vir jou familie.
Watse tipe studie was dit?
Het die studie 'n toets-groep oor jare ontleed om bevindings te maak, dus word die groep gekies en oor 'n tydperk word daar spesifieke vrae en toetse op die individue gedoen, soos wat hulle hul daaglikse bestaan maak.
Alternatiewelik kan 'n groep terugwerkend ontleed word, die groep word gekies en dan word hulle gevra oor hulle gedrag in die verlede, dit is nie noodwendig baie korrek nie, aangesien mense vergeet wanneer wat plaasgevind of gedoen is.
In medikasie toetse word daar gewoonlik van toets en kontrole groepe gebruik gemaak. In die gevalle word mense in groepe opgedeel waar een groep die medikasie kry en die ander groep slegs 'n "placebo" ('n pil sonder enige medikasie) kry. Mense in die groepe is nie bewus van in watter groep hulle in opgedeel word nie. Albei groepe word gemonitor om die psigosomatiese werking van medikasie uit te skakel en die werklike voordeel van medikasie te bepaal.
Hoe groot was die studiegroep en hoe lank het die navorsing aangehou?
Hoe groter die studiegroep hoe meer relevant word die studie, die tydperk van die studie is ook belangrik aangesien dieselfde resultaat oor 'n langer tydperk meer waarde sal dra.
Is ander omgewings faktore in ag geneem?
Die sosio-ekonomiese faktore binne 'n toets-groep is ook belangrik aangesien dit ook 'n effek op studies kan hê. Hierdie faktore moet tot 'n groot mate geëlimineer word om 'n aanvaarbare resultaat te verskaf.
Evalueer die resultaat.
'n Kind wat 'n 5% kans het om 'n siekte te kry het 'n 95% kans nie die siekte te kry nie.
Is die resultaat gepubliseer en waar?
As resultate in erkende mediese joernale gepubliseer word is die kanse dat dit 'n ernstige wetenskaplike uitkoms sal hê hoër as 'n studie wat slegs in die plaaslike nuusblad genoem word. Dit is ook belangrik om die oorspronklik studie na te gaan in die publikasie om seker te maak dat al die faktore van die studie van toepassing is op jou gesin.
Wie het vir die navorsing betaal?
As die maatskappy wat die navorsing befonds het, direkte voordeel uit die navorsing kan put, sal ek voorstel dat die navorsing met 'n knypie sout geneem word. Kyk dan in diepte na die faktore wat die navorsing beïnvloed het en hoe die toets-groep gekies is.
Hoe affekteer dit ander studies?
Is die bevinding in lyn met ander studies of direk in teenstelling met vroeëre studies?
3.Praat met jou mediese spesialiste
As jy onseker is oor enige navorsing praat met jou dokter oor die studie en vra sy of haar opinie.
Ongeag hoe mens daarna kyk leef ons in 'n tydperk waar daar daagliks nuwe studies en bevindings aan die publiek bekend gemaak word, dit is dus nodig om na die studies in geheel te kyk en nie in isolasie nie. Met die internet raak dit makliker vir ouers om hierdie studies te evalueer en te bepaal of dit wel van toepassing op hulle kinders is.
As ouers het ons almal ondervindings, soms vreudgevol en vrolik, ander traumaties en hartseer. Ons wil graag van jou hoor, deel jou gedagtes en vrese met ons.
Lees meer »
Lewer kommentaar
Nuutste kommentaar
Ander kommentaar
Sien alle kommentaar»